Prediker: André Oosthuizen

Elke dag net blou lug en warm sonskyn maak woestyne; sonder herfs en winter se koue sal lente nie kom nie.  Om soet wyn te kry moet die druiwekorrels eers gekneus word.  Robert D Foster.

Die lewe is nie altyd blou lug en warm sonskyn nie.  Herfs en wintertye in ons lewens hou vir ons elkeen verskillende uitdagings in.  Jy die winter van bekommernis en siekte en onsekerheid en vrees.  Somtyds is die winter rondom jou, ander kere trek winter sommer binne in jou in.  Die lewe het die manier om ons koud en bang te maak.  Maar die vraag is hoe jy dit moet hanteer.  Want in hierdie vallei van swaarkry kweek sommige vlerke en ander gaan soek krukke (Harold W Ruoff).  Winter kan jou of op krukke laat eindig, of vlerke gee.      

En vriende, daar is natuurlik ’n teks in die Bybel wat ons help met swaarkry.

Romeine 5:3-5: “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”

Swaarkry kweek volharding en volharding kweek egtheid van geloof en egtheid van geloof kweek hoop.  So waar wil die Here ons uitbring in ons swaarkry?  By die hoop!  By lente.  Maar om hoop te sien en lente te ervaar moet daar 2 goed in die winter gebeur.

Romeine 5 sê tussen die swaarkry en die hoop lê daar

  1. volharding en
  2. egtheid van geloof.

Nou interessant die grieks sê letterlik, volharding en dan… karakter.

Swaarkry – volharding – karakter – hoop

So in jou swaarkry moet jy as kind van die Here Jesus ’n karakter van volharding hê!  Jy moet kan vasbyt!  En as jy ’n karakter van volharding het sal jy in jou swaarkry vlerke kry en nie met krukke eindig nie.

Nou Nehemia is ’n voorbeeld van iemand wat in swaarkry die karakter gewys het van vasbyt of volharding.

Nou die storie van Nehemia loop so…

Die volk Israel bevind hulle natuurlik in die tyd van Nehemia na die ballingskap.  Hulle het die vryheid gehad om terug te keer na Jerusalem.  Maar in teenstelling met ons algemene voorstelling van die ballingskap was dit nie altyd net sleg in ballingskap nie.  Want jy kan vir jouself dink, na 70 jaar op ’n vreemde plek, is die plek nie meer so vreemd nie.  En daarmee saam kry die volk in Jeremia 29 mos die opdrag om te bou en tuine aan te lê daar waar hulle is.  So, toe die volk die geleentheid en vryheid kry om te kon terugkeer was dit nie so maklike besluit nie.  Want hulle keer terug na ruïnes.  Die eens beroemde stad Jerusalem lê in puin en die tempel was verwoes.

Nehemia was die koning van Persië Artasasta se skinker.  ’n Skinker was nie net iemand wat wyn ingegooi het nie, hy was amper soos 2de in bevel.  En daar in Persië kry Nehemia ‘n baie besondere roeping van die Here en dit is om die muur om Jerusalem te herbou.  Die roeping om te bou aan die koninkryk van God!

En in totale afhanklikheid van God bid Nehemia in 1:4-11 dat die Here hom sal help dat hierdie projek te laat slaag.

SKRIFLESING

In hoofstuk 2 kry hy by die koning toestemming om Jerusalem toe te gaan en die koning stel hom vry.   En in hoofstuk 3-7 mobiliseer Nehemia mense, bestuur hy die bouprojek en kry hulle dit uiteindelik reg om die muur om Jerusalem te herbou in net 52 dae!

Nou op die oog af klink dit soos ’n lekker maklike lente storie.  Maar in wese is dit ’n verhaal van karakter en vasbyt!  Want Nehemia het verskriklik swaar gekry in hierdie proses.

  • Ons lees in 2:19 van mense wat hom begin spot en sy pogings leedvermakerig afkeur. “Wat vir ’n ding is dit waarmee julle besig is?” In 4:3 spot hulle dat as ’n jakkals teen hierdie muur sou spring hy sal omval!  Dit is nie lekker as iemand jou werk kritiseer of jou droom aflag nie.  Nehemia moes sekerlik ook iewers in sy agterkop gewonder het of hierdie kite gaan vlieg.
  • Ons lees in hoofstuk 4 en 6 hoe mense saamgesweer het om Jerusalem te probeer inval en die bouwerk te stop.
  • Op ’n stadium het hierdie bouwerk oorweldigend gelyk (4:10). Die bouers het moedeloos geraak en begin kla.  “Die Judeers het begin kla: “Die draers se kragte gee in, die puin is te veel.  Ons gaan dit nie regkry nom die muur klaar te bou nie.”
  • Ons lees dat hulle selfs vir hulle lewens gevrees het. Soveel so dat hulle met ’n troffel in die een hand en ’n swaard in die ander gebou het.

Met ander woorde vriende, daar was genoeg rede vir Nehemia om te sê, dis nou genoeg!  Kom ons gee op.  Kom ons gooi handdoek in.  Die puin en murasies is te veel.  Die gevaar is te kwaai.  Die kool is nie die sous werd nie.  Kom ons hou op en gaan maar terug.  Maar dit is nie die karakter van ’n kind van God nie!  Want agter hom en die volk was die krag van God!  Daarom het hulle vasgebyt en het die swaarkry hulle nie van stryk gebring nie.  Hulle het deurgedruk.  Kort-kort lees ons die woorde:

  • Die God van die hemel sal ons laat slaag in wat ons doen. (2:20).
  • Ons het bly bou aan die muur. Die hele muur was al halfpad opgebou.  Die mense se hart was in die werk.(4:6).
  • Moenie vir hulle bang wees nie. Dink aan die Here, groot en ontsagwekkend, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vrouens,en julle huise. (4:14).
  • Ons God sal vir ons die stryd voer (4:20).

En na 52 dae se harde werk, dag en nag, na 52 dae se swaarky, na 52 dae se beproewing, na 52 dae se bedreiging kon hy terugstaan en sien wat hulle onder die krag van God kon doen!

Swaarkry – volharding – karakter – hoop

Miskien praat ons te min met mekaar en met ons kinders oor ’n Christelike karakter.  Wie is ons as kinders van die Here?  Hoe behoort ons te wees?  Hoe behoort ons te dink en op te tree.  En glo my, ek weet ook dit is nie altyd maklik om vas te byt as jy swaar kry nie.  En ek weet partykeer is jy moeg om te hoor jy moet net vasbyt dit sal beter gaan.  Maar dit lyk vir my liewe kind van die Here Jesus, dat vasbyt deel van jou karakter behoort te wees as kind van die Here Jesus!  Want opgee bestaan nie in God se woordeskat nie!  Hy ken nie opgee nie.  Hy ken nie handdoek ingooi nie!  Want daar is niks te groot of te uitdagend vir Hom nie!  En omdat jy sy kind is, is jy tot alles instaat omdat Hy vir jou die krag gee!

Maar om van swaarkry tot by hoop te kom vra volharding en karakter.

En ek wil vanmôre vir julle sê, Christene kort vandag karakter!  Christene gee te maklik op!  Ons gooi te maklik handdoek in.

  • Ons gee te maklik op in moeilike omstandighede in ons land. Oo nou is alles in sy kanon, Zuma is koning in Nkandla en die Guptas steel die pap wat ons die res van ons lewe moet eet.
  • Ons gee te maklik op op ons huwelike. Ek sien dikwels bitter min vasbyt in huwelike.  Ek sien eerder mense wat oor onbenullighede skei sonder om met alles in hulle en God se krag agter hulle te bly bou al is dit swaar en moeilik.  Jy kan nie net opgee nie.  Jy moet veg, en stry en vasbyt en bou.
  • Ek sien hoe mense opgee in moeilike werk en finansiële situasies. Vriende, net soos in Nehemia raak die werkers ook moeg en moedeloos.  Die werk lyk somtyds ook te veel en die puin te groot.  Hulle moes ook werk onder slegte omstandighede.  Uitgelewer aan onbevoegdheid, kwaadwilligheid en afguns. Maar jy moet bou!  Want dit is jou karakter om op te staan, om vas te byt, want God is agter jou.
  • Ek sien hoe mense opgee op hulleself. Toelaat dat die lewe hulle onderkry.

Liewe kind van die Here Jesus, volharding in swaarkry is deel van jou geestelike karakter.  En volharding is deel van jou karkater omdat God jou in jou swaarkry krag gee om op te staan, aan te hou, uit te hou.  Ek is vanmôre gestuur om vir jou te kom sê dat die Here jou swaarkry sien.  Hy is nie blind vir jou sukkel en swaarky nie.  Hy gee om vir jou, Hy is lief vir jou.  Maar ek is ook gestuur om vir jou te sê, jy moet vasbyt!  Want Christene is mense met ’n vasbyt karakter.  Mense wat net opgee op God nie, nie opgee op hulself nie, nie opgee op hul bouwerk nie, omdat ons oë op God gerig is.

Ons is mense wat …

  • weer probeer
  • opstaan as ons val
  • regmaak waar ons verbrou het
  • bou waar goed inmekaar val

En dit is hoe ons geestelike karakter bou!

Slot:

Elke dag net blou lug en warm sonskyn maak uiteindelik woestyne.  Sonder die herfs en winter se koue sal lente nie kom nie.  Daarom liewe kind van die Here Jesus onthou, God wil jou bring by hoop.  En weet jy wat is hoop?  Hoop is om te weet lente sal kom!  Hoop is om te weet lente sal kom in jou vrees, jou bekommernis, jou hartseer, in jou hooploosheid, in jou moedeloosheid.

Swaarkry vra volharding, en volharding bou karakter – en bring altyd hoop

Lente sal kom, byt vas, hou aan bou, want God is by en agter jou!  Amen!