Prediker: Japie Marais

japiem@intekom.co.za

130822-TH-Gods-Word-Our-FoundationTwee maande terug was ek eendag by ‘n fisioterapeut met ‘n lastige fietsrybesering.  Toe sy so begin met die fisio en naalde in my indruk toe kom daar nog ‘n erger naald wat reg in my siel ingedruk het.  Sy maak die opmerking : Lyk my julle kerk is tot in sy fondadmente geruk. Ewe onskuldig vra ek toe maar : Wat bedoel jy? En haar antwoord is toe: Kyk maar net na die lamppale.

Onnodig om te se dat my kop toe begin maal het. Nie oor die lamppale nie, maar oor die kwessie van wat die fondament van die kerk is. Dit is die saak wat ‘n tyd lank in my gedagtes was. Onnodig om te sê dat ek dadelik aan ons eie gemeente gedink het want hierdie is ‘n volledige kerk. Die duidelikste opsomming het ek by ons gereformeerde kerkvaders gekry. Na die reformasie het hulle gekom met die volgende credos wat die kerk se leer opsom:

  1. Sola Scriptura
  2. Sola Christus
  3. Sola Fidei
  4. Sola Gratia
  5. Sola Deo Gloria

 

As jy hierdie nog verder in ‘n beeld wil saamvat, kan ons sê:

  • Die dak van hierdie kerk is die genade
  • Die stene is die geloof
  • Die verf is die aan God alleen die eer
  • En dan die fondament is Christus en die Woord.

Nog verder vereenvoudig kan ons sê dat die fondament van die kerk, is die Woord. En nou moet u onthou dat in die Grieks (Logos) en Hebreeus het die woord Woord ‘n breër betekenis as in Afrikaans. En in die volgende 5 preke gaan ons na die verskillende betekenisse van die woord Woord kyk. Dan sal ons hopelik verstaan wat die fondament van ons kerk is.  Ons gaan elke sondag ‘n ander een vat:

  • Lewe skeppende Woord
  • Onthullende Woord
  • Gebore Woord
  • Openbarende Woord
  1. Skriflesing : Genesis 1-3; Johannes 1:1-5
  2. Preek

Inleiding
Vandag kyk ons na die tema : Leweskeppende Woord.  As jy kyk na die tema dan is daar drie gedagtes ingesluit:

  • Lewe – en as ons in die Bybel kyk dan is lewe altyd die teenoorgestelde van dood. En deur die hele Bybel word die oorsprong van lewe altyd na God die Vader of Jesus die Seun herlei.
  • Die tweede gedagte in die woord is die woordjie skep. En hierop wil ons vandag konsentreer. En u sal as ons klaar is verstaan hoekom ek nie die woorde gee of herskep gebruik nie.
  • Die derde gedagte in die tema is die woordjie Woord wat dan die tema van ons reeks is.

Kom ons kyk dan nou wat beteken die tema leweskeppende Woord.

  1. Skepping 

As ons na die woord kyk dan verwys dit allereers na die skepping. Hoe God die wêreld gemaak het. En volgens die een verhaal wat ons gelees het, het God die wêreld deur Sy Woord gemaak.  Soos ‘n reëlmaat hoor ons die woorde : “Toe het God gesê” Met ander woorde deur net ‘n Woord te spreek, het Hy lewe geskep.

 

  • Hele Genesis 1 staan daar dat Hy geskep het deur net ‘n Woord te spreek.
  • In Hebreërs 11:6 staan die volgende woorde : “Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie”

Lewe skeppende Woord verwys dus allereers na die manier waarop God in die begin geskep het. Deur net ‘n Woord te se en dit was daar. So kragtig is God se Woord dat Hy deur een Woord die volgende kan skep:

  • Dag 1 : Lig
  • Dag 2: Hemel en aarde
  • Dag 3: Plantegroei
  • Dag 4: Son maan en sterre
  • Dag 5 : Alle diere
  • Dag 6 : Die mens.

Geen mens kon dit nog ooit regkry om uit niks uit lewe te skep nie. Dis uniek aan God. En na elke ding wat Hy geskep het, sien ons die woorde “en dit was goed”. God het nog nooit iets slegs gemaak nie. Dit is net nie deel van Sy Aard nie. Hy kan nie iets slegs maak nie.

‘n Mens sou graag wou hê dat die verhaal hier eindig met “They lived happily everafter”. Ongelukkig is dit nie so nie.

  1. Katastrofiese gebeure 

En toe gebeur daar kort na die skepping iets katastrofaal. Iets wat God nie gewens of sou kon voorsien nie. ‘n Ander karakter verskyn op die toneel. As ons kyk na die een verhaal waarvolgens God deur die Woord geskep het, is die volgende persoon wat aan die woord is, die slang. Dit is die duiwel, bedrieër of groot leuenaar.  En hy probeer vir Eva vang op ‘n baie slinkse manier met die woorde : “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie” . Dit is presies dieselfde tegniek wat hy nog vandag gebruik en dit is om ‘n waarheid ‘n bietjie te verdraai dat dit heel vroom klink. En Eva val vir hom. Die hele verhaal kan u in Genesis 3 gaan lees.

 

Die gevolge was absoluut katastrofaal:

  • In 3:14-15 lees ons van die straf vir die duiwel. Ons praat ook hier van die moederbelofte. Daar word belowe dat die vrou wat die kerk en uiteindelik Jesus Christus simboliseer, hom sal verslaan en vernietig.
  • In 3:16 lees ons van die straf aan die vrou. Sy sal met moeite geboorte skenk en na haar man smag.
  • In 3:17 lees ons van die straf aan die man. Hy sal met moeite werk om vir sy familie te sorg.
  • In 3:18-19 lees ons van die straf vir die aarde. Hy sal onkruid hê en niks sal normaal wees nie.

Hierdie katastrofe wat met die sondeval plaasgevind het, het alle dele van die skepping geraak.  Geen deel van die skepping is uitgesluit nie. En dit is iets wat die mens oor homself en die aarde gebring het. U sien dit werk so. Met die eet van die verbode vrugte het die mens wat goed gemaak is, kennis van goed en kwaad bekom. Voorheen kon hy net goed doen. Maar nou kon hy kies vir die slegte en trou aan sy aard, is dit wat die mens geslagte lank sou doen. Kies vir die sonde. Kies vir die verkeerde en so raak hy alles en almal rondom hom.

 

  1. Evolusonêre agteruitgang 

    Onnodig om te sê dat na die sondeval het sonde net ge-eskaleer. Die mens het al hoe meer sondig en sondig geraak en alles rondom hom begin vernietig. ‘n Mens kan sê dat daar na die sondeval ‘n evolusionêre agteruitgang was. Gewoonlik word die woord evolusie vir vooruitgang gebruik, maar die verhaal wat ons sien afspeel in die wêreld en by die mens is en was dit presies die teenoorgestelde. Hierdie evolusionêre agteruitgang was letterlik op alle gebiede. Ek wil net drie uitsonder wat die mees opvallendste is:

 

  • Moralistiese gebied: Agteruitgang op moralistiese gebied was onmiddellik. Dit was soos ‘n pes wat dadelik aansteeklik was en net erger geraak het.  In Genesis 4 sien ons dat alreeds met die eerste nageslag is daar moord waar Kain sy broer Abel vermoor. ‘n Paar hoofstukke verder in Genesis 6 sien ons dat die sonde so erg is dat die mens net sonde doen en dat God spyt is dat Hy die mens gemaak het. En die res van die Bybel lees ons van absolute morele verval op alle gebiede.  As ons spring na Openbaring 13:8 sien ons dat al die mense die duiwel wat hulle in die eerste plek in die moeilikheid gekry het, aanbid.
  • Kosmiese Gebied: Die mens los niks uit nie. Hy vernietig alles waaraan hy raak. Alles wat God geskep het, is hy besig om te vernietig. Die lig wat God gemaak het, is vir baie mense nie eers sigbaar nie vanwee die rook van fabrieke. Die hemel het ‘n gat in as gevolg van al ons spuitblikkies en vuur. Die aarde word daagliks vernietig en bome word by die miljoene afgesaag. Die see word ‘n stortingsterrein wat maak dat biljoene seediere vernietig word. So is die mens besig om op kosmiese gebied absoluut die wêreld te vernietig.
  • Biologiese Gebied: Op biologiese gebied is daar ook ‘n evolusionêre agteruitgang. Van weë die sondes en gewoontes van die mens is daar nie net mediese siektes wat meer word en onbehandelbaar is nie. Maar deur die aanhou doen van sondes word sekere slegte gewoontes in die gene van die mens ingeteel. Dis ‘n biologiese feit dat as die mens geisoleer word en sekere slegte goed doen, dat dit naderhand deel van sy gene is en so van geslag na geslag oorgedra. Alle afwykings, alle siektes, alle probleme wat die mens het, is nie deur God geskep nie. Dit is deur die mens se eie toedoen. God het vir Adam en Eva gesê om te vermeerder. En het hulle nie ‘n slegte werk daarvan gedoen nie.

Niks op aarde en by die mens wat sleg is, kan en mag aan die God se deur gelê word nie. Hy het net goeie goed gemaak. Alles wat sleg is, is die mens se skuld. As hulle vir Jesus in die Nuwe Testament vra wie se sondes is verantwoordelik vir die blinde man se toestand en Hy antwoord : Dis nie as gevolg van sy of sy ouers se sonde nie, maar sodat God verheerlik kan word ,  dan sê Jesus nie God het hom so gemaak nie. Wat hy sê is dat sy sonde die gevolg van eeue se sonde is en dat God dit gebruik om te wys dat Hy nog kan nuut maak en skep. Dat Hy groter as eeue se sonde is.

Aan die hand van die mens is daar dus ‘n evolusionêre agteruitgang. En as jy die laaste paar hoofstukke van Openbaring lees besef jy watter katastrofale gevolge dit tot gevolg sal hê.

  1. Prosesmatige herskepping

Beteken dit alles nou dat God die wêreld geskep het en Hom toe maar aan die aarde en die mens onttrek het. Beteken dit nou dat God eers weer die dag met die wederkoms sal voortgaan en die mens en die wêreld herskep? Beteken dit wat ons hier bo gehoor het dat ons nou maar alles wat sondig en verkeerd is, moet aanvaar en moet sê dit is nou so gemaak en so laat staan?

Nee glad nie. Die boodskap van die hele Bybel is dat God nooit die werke van Sy Hande laat vaar nie. Hy laat wel toe dat sekere verkeerde goed gebeur en dat die mens aangaan met sy sondes. Maar God keur dit nie goed nie. En van die dag wat Adam en Eva gesondig het, is God besig om op ‘n prosesmatige manier weer van nuut af dinge te herskep en te skep. Met prosesmatig bedoel ons dat God bietjie vir bietjie weer skep tot en met die wederkoms dat Hy die werke van Sy hande sal voltooi en die nuwe hemel en aarde sal skep en die oue sal vernietig. Hierdie prosesmatige herskepping geskied veral op twee gebiede:

  • Allereers is God besig om in die natuur tekens van sy herskepping daar te stel. Elke druppel reën wat val, elke blom wat groei, elke groente wat opkom, elke boom wat groei is tekens van God se skepping. En dis tekens van wat eendag gaan gebeur as Hy die aarde gaan nuutmaak. Sonder God se voortdurende betrokkenheid sal die aarde dor en leeg wees.
  • Maar God is veral besig met Sy herskepping deur die mens nuut te maak. Elke mens wat tot bekering kom, is volgens Johannes 3 die vrug van wedergeboorte. Deur wedergeboorte gee God vir die mens die lewe wat hy verloor het met die sondeval. Volgens Paulus in Romeine 5-8 het ons gesterf deur die sonde, maar God maak ons nuut deur die genade. Elke dag is God besig om mense by Sy volk te voeg. Prosesmatig maak Hy almal nuut waar daarvoor bestem is. ‘n Gedeelte wat ek altyd moeilik verstaan het en wat nou duidelik geword het, is Johannes 8 waar dit handel oor die vrou wat owerspel gepleeg het. Die mense wou haar stenig en toe sê Jesus dat die een wat sonder sonde is, moet eerste ‘n klip optel. Niemand het haar toe gegooi nie en toe sê Jesus vir haarde woorde: “Gaan maar en moet van nou af nie meer sondig nie”. Op sigwaarde lyk dit of Jesus net vir haar sê om op te hou sondig. Maar hier staan meer as dit. Eers sê Hy dat Hy haar nie veroordeel nie en die woord wat Hy vir gaan gebruik, is dieselfde woord wat gebruik word as Hy gesê het dat iemand in vrede moet gaan. Met ander woorde Hy gee eers vir haar die nuwe lewe en op grond van die gawe versoek Hy haar om op te hou sondig. Hy kan dit vra, want sy kan dit doen. So maak God al sy uitverkorenes nuut en skep Hy nuwe mense uit hulle. Die dag as die volle getal – volgens Openbaring ‘n simboliese 144000 – nuut geskep is, gaan God weer kom en die res van die skepping nuut maak.

Met ander woorde God is nou reeds besig om te herskep. Hy is nou reeds besig om nog steeds te skep.

 

Slot

En dit is wat bedoel word met die leweskeppende Woord.  God het nie ophou skep nie. Hy skep nog steeds. Tot en met die dag dat Hy die hemel en aarde gaan nuut maak en die oue gaan vernietig.

Wat is dan die implikasies daarvan vir ons? Tweërlei:

Allereers mag ons nooit die slegte wat in mense of in die natuur is toedig aan God nie. Ons mag nie sê dat God iets leliks en onaanvaarbaar gemaak het nie. Ons mag nie daarvan ‘n credo maak nie. God skep net goeie.

Verder het dit ‘n geweldige implikasie op ons. God skep nuut deur Sy Woord. En Hy het nie daardie Woord vir Homself gehou nie. Hy het dit vir ons gegee.  In Johannes 17:17 staan daar dat Jesus die Woord aan ons gegee het. Dit is dieselfde Woord waarmee die wereld geskep is. Dit is dieselfde Woord wat Petrus gespreek het en duisende mense tot bekering gekom het. Daardie Woord is in ons harte en ons kan deel van God se prosesmatige verandering wees deur die Woord die wêreld in te dra. Leweskeppende Woord. Hoe kragtig! Hoe waar! Kyk rondom u en sien die tekens. Kyk in u harte en deel dit met ander.

 

Amen,