Hierdie teks het nie ouderdomsbeperkinge nie.
Maar hierdie teks is nie vir sensitiewe en dunvellige luisteraars nie.
As jy kleinserig is, moet jy jou veiligheidsgordel vastrek.
Maar miskien is is hierdie Woord juis dan vir jou.
Want dit is jy wat in hierdie rowwe wêreld moet oorleef – in hierdie eindtye.
En jy het perspektief en toerusting – en ‘n klomp genade nodig.
Net drie opmerkings weer oor Openbaring.
- Dit is ‘n troosboek om gelowiges te bemoedig wat in baie moeilike tye aan die einde van die eerste eeu geleef het. Hulle lewens vas nie veilig met vervolgings onder keiser Nero nie. Hul finansiële oorlewing was ook baie moeilik, want hulle het nie aan die regte keiserlike vakbonde behoort nie.
- Oor die onmiddellike konteks: Openbaring 14 (hierna) gaan oor die toekoms. Daar is ‘n hemelse ervaring en die 144000 uitverkorenes ervaar die hemelse heerlikheid, terwyl oordele op die aarde voltrek word.Dit beskryf die aktuele NOU van die gelowiges in hul stryd om fisiese en geestelike oorlewing. Dit gaan dus oor ons uitdagings as gelowiges.
- Die teks gebruik natuurlik baie beelde – tipies van Openbaring.
- Openbaring 13 staan tussen die verlede en die toekoms: maw in die NOU.
- Die vorige hoofstuk (Op 12) het gehandel oor die verlede. Die kerk het geboorte gegee aan die Messias (Jesus Christus), maar die draak (Satan) was daaroor baie boos en toe hy nie die geboorte van Jesus kon verhoed nie, toe rig hy sy aggressie op die kerk van Christus (Openbaring 12:17)
- Wie is die rolspelers in hierdie draaiboek?
- Natuurlik God.
- Sy opponent is die Satan – hier uitgebeeld as ‘n verwoede draak. (Op 12)
- Hy het twee trawante: Die dier uit die see en die dier uit die aarde. Ons gaan hulle beter leer ken. Saam met die draak vorm hulle die onheilige drie-eenheid.
- Dan is daar die gelowiges. Hulle land in die kruisvuur tussen God en die onheilige drie-eenheid. En die draak is nie ingenome met hulle nie – veral nie met die gelowiges nie!
Let op die detail van die kunswerk wat die drie diere van Op 13 uitgebeeld het.
Lees die teks.
Tema: In die spervuur en doolhowe.
Ek het gewonder hoe ons hierdie stuk metafoor bevatlik kan kry vir mense soos ons.
En ek het gedink aan my eie “white-water” ervaring.
Daar onder die Victoria-valle klim jy en ‘n paar ander ouens in ‘n rubberbootjie en trotseer die agressie van die Zambesi.
Eers dink jy dit is nou ‘n lekker speletjie.
Totdat jy die eerste rapid vang. Dan begin jy bekommerd raak.
En dan by die tweede rapid, dan gebeur dit. Jy word pens en pootjies uitgesmyt in die malende en kolkende “white waters” van die Zambesi.
En skielik is dit nie meer ‘n grap nie. Jy weet nie waar is bo en waar is onder nie. En jy kan nie eers na asem snak nie.
Dan genadiglik kom jy agter dat jy, danksy die veiligheidsbaadjie, na die oppervlak begin opkom. Of jy hoop jy is op pad na die oppervlak! En dan is jy skielik onder die boot wat jou afgegooi het. En gelukkig onthou jy die voorskrif. Druk jouself van die boot af weg – weer dieper die water in! Eisch! En dan hopelik sal jy êrens jou neus bo die water kry. Maar dit is nie die einde nie! Soos jy deur die golwe spoel kan jy later die rivieroewer in sig. En daar lê ‘n ry krokodille! Paniek oorweldig jou! En jy besef jy is beslis nie meer met ‘n speletjie besig nie! Jy wens jy het geloof soos Petrus gehad dat jy op die water kan loop.
En dan is daar ‘n oarsman se hand wat hy na jou uitsteek…
Die lewe van die gelowige tussen Jesus se eerste koms en die wederkoms is ook nie ‘n speletjie nie.
Die “diere” wat openbaring so kunstig skilder is ook nie verbeeldingryke kinderspeelgoed tussen jou dinosaurus-diertjies nie.
Hulle is rowwe monsters. Hulle ken geen genade nie.
Dit gaan oor God se eer wat ten alle koste vir die draak gesteel moet word.
En as dit nie spontaan gebeur nie, dan word die grootste mate van geweld en die grootste mate van slinksheid gebruik.
Ons gaan nie by al die detail van die twee diere stilstaan nie, maar net die hooflyne trek.
Ons begin by die monster uit die see. Iets van ‘n slu en gevaarlike luiperdagtige figuur.
Hy lyk kwaai, want hy is kwaai!
Hy het drie take:
- Hy laster God. Hy sê allerlei onwaarhede en afbrekende dinge oor God. Want sien: Die draak, Satan, is immers sy werkgewer.
- Hy maak oorlog teen die gelowiges. Vervolging van Christene is nie so vreemd aan die geskiedenis nie. Christenvervolging was in die vroegste kerk die speletjie van die keiser. In ons dag is dit die speletjie” van ISIS om die teenstanders dood te maak in die hoop dat dit die mensdom sal afskrik om in God te glo. Gelukkig, deur God se gende, gebeur waarskynlik presies die teenoorgestelde.En hierdie vervolging twv geloof en ‘n duidelike getuienis stop nie by ISIS nie.In gekamoefleerde vorme is dit deel van die lyding en die beproewings van gelowiges die wêreld oor.Ek dink dit was die mees skokkende beelde van die eeu toe die Christenmans in die oranje oorpakke voor die wêreld se kameras en TV’s onthoof is.
- Die derde taak is om mense te oortuig om hom te aanbid. Let wel: Dit is egter nie die gelowiges wie se name in die boek van die lewe staan wat hom sal aanbid nie.Trouens hy is beseer en verwond – soos Jesus – maar hy raak genees en dit bring verwondering by mense.Die dier wil God wees! Hy wil aanbid word.
Sien, dit gaan rof!
Dit is meer kras gestel as verlede Sondag se woord uit Jakobus 1 waar bloot gepraat word van beproewings en versoekings.
Hier word die beproewings tot die uiterste toe gedryf: Dit is OORLOG, dood, bloed.
Nou is die vraag:
Is daar enige troos en bemoediging vir ons in so ‘n rowwe tyd?
Daar is twee belangrike troosmomente in die teks:
- Die mag van hierdie dier is nie onbeperk nie. God het steeds die oppermag. Hy is steeds lewensgevaarlik, maar hy is aan ‘n ketting.En hy het net beperkte tyd om te verwoes.Ds Andre gebruik die beeld van die kwaai hond aan die ketting.Daarom verstaan ons dat die dier ook net vir ‘n beperkte tyd gesag kan uitoefen.God sit steeds op die troon.Die dier kan net funksioneer binne die toelating van God.”Die dier is toegelaat om verskriklike dinge te sê en te laster en om twee en veertig maande lank gesag uit te oefen.” (:5)
- Die tweede troos is dat God se kinders beskerming het.:8: “Al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die skepping van die wêreld af geskrywe staan in die boek van die lewe, die boek van die Lam wat geslag is nie.”Daar is dus mense wie se name in die boek van die lewe staan en daar is ander wie se name nie daar staan nie.
Omdat jy die offer van Christus aanvaar het en God jou gered het, staan jou naam onuitwisbaar in die boek van die lewe.Hy het jou teen té hoë prys gekoop, dat Hy jou uit sy hande uit sal laat ruk.Jy is God se eiendom. As jou naam in die boek van die lewe staan, sal God jou beskerm dat jy nie jou geloof verloor nie.
Daarom: moenie paniekerig raak nie!
Wat staan ons egter te doen? Hoe moet ons nou reageer?
Want ten spyte van die troos, raak die vervolging nie minder intens en traumaties nie!
Vers 10 sê:
“Hier het die gelowiges volharding en geloof nodig.”
Dit gaan alles oor hierdie gedagte van volharding.
Staan vas in die geloof!
As jy gevangenskap moet deurmaak, “so be it!” Moenie daarvoor skrik nie.
As jy doodgemaak moet word, “so be it!” Maar moenie jou geloof opgee nie.
Sien weer :10.
Met ‘n stuk vasberadenheid moet ons in die geloof volhard.
Moenie paniekerig raak nie!
Moenie tou opgooi nie.
Dit sal alles blyk die moeite werd te wees!
Nou vir die tweede dier:
Hy kom op uit die aarde.
Hy is in diens van die eerste dier, maar praat met die draak se mond.
Hy is dus ook maar in diens van Satan.
Hy verteenwoordig moderne filosofieë en antichristelike godsdienste.
In die tyd van die eerste lesers was dit bv keiserverering.
Wat uitstaan van hierdie monster is sy wonderwerke.
Hy laat selfs vuur uit die hemel val.
Dit laat dink aan die stryd tussen Elia en die Baälpriesters waar God met vuur uit die hemel antwoord.
Hy is regtig iets besonders en hy fassineer mense.
Mense verwonder hulle oopmond oor hom en sy wonders.
Hy is ‘n vals profeet wat vir mense stories vertel wat hulle gewilliglik glo.
So is daar baie denkrigtings in ons dag wat ons ook oopmond van verbasing laat staan.
Van baie van die denkrigtings verwag ons nogal baie.
Ons dink dit gaan vir ons die paradys bring.
Ons praat van propaganda.
Denkrigtings wat oorwaardeer word.
Ons bevind ons in allerlei filosofiese doolhowe waarin ons kan verdwaal en in die hand van die draak kan speel as ons nie leer om fyn te onderskei nie.
Kom ons dink so bietjie eietyds. Hoe kan sulke misleidings lyk?
- Die denkrigting van die materialisme maak ons nogal opgewonde. Ons hoor die verhale van die miljoenêrs en dink dit is die grootste wonder. ‘n Wonderwerk uit die hemel!Geld is jou pensioen vir die toekoms.En as ek nie geld op ‘n eerlike manier kan kry nie, dan kry ek dit dmv bedrog of korrupsie.Luister na vers 16 ev: Dit gaan oor handel en finansies. Maar hier is ‘n duidelike verband tussen handel, finansies en die filosofie van die dier uit die aarde Ons gaan nie ons tyd mors met spekulasies oor die getal 666 nie En dit kan ‘n verleidelike mag in Satan se hand wees.” Hy verplig al die mense, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ‘n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te dra en laat niemand toe om te koop of te verkoop nie, behalwe die mense wat die merk het God en sy sorg het net ‘n rol te speel vir soverre God kan help om geld te bekom. Hierdie filosofie word so ver gevoer dat jy later nie meer vir God nodig het nie. Ons dink geld en eiendom sal ons regtig gelukkig maak.
- ‘n Ander denkrigting wat ons oopmond laat van verbasing is die tegnologie. Vat maar net die rekenaar- en digitale ontwikkelings. Dit laat ons almal verstom en op ‘n manier word ons teen wil en dank daarby ingetrek. Ek is bang dat dit meer word as ‘n kommunikasie- en administratiewe hulpmiddel.Die kanse is sterk dat jou dabkoffers aan die digitale meer is as jou dankoffer in die gemeente. Dit vervang sommer jou normale verhoudings en Facebook neem die plek in van jou stiltetyd.. Jy kan nie meer daarsonder nie.
- Dan is daar op politieke terrein die denkrigting van die demokrasie. As ons net by ‘n suiwer demokrasie kan uitkom, dan sal almal tevrede wees. Dan sal elke lid van die demokrasie mos inspraak hê. Of so hoop ons! En dan vertrou jy nie meer vir God vir seën en sorg en voorspoed nie.Demokrasie bly op die ou einde maar een van die mindere euwels van politieke naasbestaan.
- Heel konkreet in verhoudings is daar ook die denkrigting dat jy maar kan belê in ‘n aantreklike ou – selfs al is hy op universiteit ‘n suiplap. Jy dink dat jy hom sal reg kry as julle eers getroud is. Daardie betowerende vuur uit die lug gaan jou baie seer brand! Dit is ‘n leuen van die dier uit die aarde. Jy gaan baie seer kry.Baie mense koop die gedagte by die dier uit die aarde dat jy sonder ‘n egter liefdesverhouding en sekuriteit in ‘n huwelik gelukkig kan wee.
- Nog ‘n denkrigting van ons dag: Jy kan gelowige wees sonder om deel te wees van die kerk. Daar is baie motiverings waarom gelowiges nie deel van die “skynheilige ou klomp” in die kerk wil wees nie. So gaan die argument gewoonlik. En daarom sal ek maar op my eie suiwer kerk bly. Dit is dwaalleer, strategie van die dier uit die aarde. Jy het medegelowiges nodig en hulle het jou nodig. Moenie blaaie uit die Bybel begin uitskeer nie. Dan speel jy ook in die kraal van die draak en sy trawante.
Sien, ons sal moet leer om fyn te luister tussen al die dwaalleringe. En dan het ons nie eers aandag gegee aan al die dwaal-godsdienste nie!
Ons sal moet leer om fyn te onderskei.
En daarin sal die Heilige Gees ons moet help.
… oopkop en gelowig onder die leiding van die Heilige Gees.
Dit is waarvan Openb 13:18 praat;
“Hier is wysheid nodig. Wie verstand het, kan die getal van die dier ontsyfer, want dit is ‘n mens se getal. Sy getal is ses honderd ses en sestig.”
Daar was ‘n baie interessante gebruik aan die einde van die eerste eeu. Dit is om syferwaardes aan letters toe te ken. Kom ons sê maar A=1, B=2, C=3.
So het jy dan ‘n syferwaarde vir elke naam.
Ons noem die gebruik “gematria”.
As jy dan bv Keiser Nero, die groot vervolger van die kerk, se syferwaarde bereken, sou dit uitkom op 666.
“Dit is ook die getal van die mens” met sy sondigheid.
God se getal sou dan wees 777.
Dit kom eintlik neer daarop dat ons/en keiser Nero eintlik God wil wees, maar ons skiet tekort. Ons skiet op elkeen van die punte tekort. Ons lewens bestaan dan uit drie mislukkings.
ietemin het almal nie hierdie gematria geken nie.
Iemand moes eers vir jou hierdie geheime gebruik leer. Dan kon jy as ingewyde wyse deel neem aan die berekenings.
As Johannes nou sê:
“Hier is wysheid nodig.”
Dan praat hy van ‘n fyn onderskeidingsvermoë wat ons met ontwikkel.
Ons moet ons nie op dwaalspore laat lei nie.
Dit is waarin die heilige Gees ons wil lei.
Ek sluit af:
Ons, miskien meer as die eerste gelowiges in keiser Nero se tyd, leef te midde van ‘n felle en bloedige oorlog.
Ons staan in die kruisvuur waar ons ons lewe kan verloor soos wat dit selfs in ons tyd gebeur.
Die ander werklikheid is die filosofiese en godsdienstige denkrigtings wat ons nie net deurmekaar maak nie, maar ons ook in gevaarlike doolhowe kan laat beland.
Openbaring sê ons het drie dinge nodig:
Geloof, volharding en wysheid.
Maar miskien is die vierde ding die belangrikste;
Om te weet dat God almagtig is en dat Hy vir ons is
– en die wêreldgeskiedenis is veilig in Sy hand.
Moenie “panic” nie!
Amen
Prediker: Ds Retief Botha. Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.