Ek het ‘n groot fout gemaak terwyl ek so deur 1 Samuel lees.
Toe ek in 1 Sam 15 se laaste vers kom by die opmerking dat die Here “bedroef was daaroor dat Hy Saul koning oor Israel gemaak het”, het ek gewonder wat het dan so vreeslik verkeerd gegaan.
Ek het die hoofstuk (en selfs die vorige ook) weer gaan lees.
My fout was dat ek nogal waardering vir Saul kon kry. By die eerste herlees van die teks het hy toe nie vir my so ‘n vreeslike slegte ou gelyk nie.
In plaas daarvan dat ek hom sien as ‘n goddelose godloënaar en onverskillige ou, blyk hy toe heel redelik en aanvaarbaar te wees. Hy lyk vir my ‘n heel redelike mens wat, gegewe die moeilike posisies waarin hy homself bevind, nie te slegte besluite neem nie.
Ek het ‘n idee dat ons, as ons onsself in sy skoene sou bevind, heel waarskynlik dieselfde beslissings sou maak.
Kyk, hy kry ‘n opdrag en hy gaan uit om presies dit te gaan doen wat hy as opdrag kry. Hy moet eertydse vyande van Israel met die banvloek gaan tref.
Maar die omstandighede is baie kompleks en dit raak al meer kompleks.
Daar is bv ander onskuldige mense tussen die Amalekiete. Saul, soos ‘n baie regverdige en genadige koning sou kon doen, gee vir hulle ‘n waarskuwing om hulle te onttrek. En hulle doen dit! 100% vir Saul!
En dan voer hy en sy leër die Here se opdrag uit. Nou nie heeltemal so nie, maar amper so. Nie presies en 100% soos God gesê het nie, maar amper so! Seker darem so 70% daarvan.
En ons het mos in die skool geleer dat 50 % is al ‘n slaagsyfer.
(Ek is nie seker of ek na ‘n chirurg sou gaan vir ‘n operasie as ek weet hy het 50% vir Blindedermuithaal gekry nie!)
Maar volgens ons gewone standaarde sou Saul loshande geslaag het.
Eintlik ‘n man van onderskeidings!
Twee dinge het hom egter sy onderskeiding gekos:
- Hy dood nie vir koning Agag nie. Miskien wou hy hom, soos tipies gebeur het in sulke gevalle, hom verneder en later in die openbaar teregstel. Of miskien wou hy genadig optree.
- Die ander situasie wat na vore kom, is (volgens sy verskonings later) dat die manskappe hom toe kom versoek om van die beste vee en van die buit te hou om dit as offer aan God te bring! Dit klink vir my ook baie vroom! Dit is nou mooi liturgiese motiewe. So het Saul toe al geleer om mooi demokraties na sy manskappe te luister. Daar sit dikwels baie waarde in na ander te luister. En hier doen hy dit ook.
- En die koning wat geleer het om na sy manskappe te luister, doen dit weer.
- “Koning, ons dink ons moet van die beste vee hou as brandoffers.”
- Die feit dat Saul vir die manskappe luister het ook ‘n agtergrond. By ‘n vorige geleentheid doen hy ‘n onbesonne ding en lê ‘n eed af enigeen wat die dag verder in ‘n agtervolging iets sou eet voor die vyand ingehaal is, om die lewe gebring moes word. Sy eie seun Jonathan weet nie van die bevel nie en mes volgens eed om die lewe gebring word. Maar die manskappe tree by die koning in en spaar Jonathan se lewe.
Saul is tipies van ons as moderne mense.
Aanpasbaar, toegeeflik, bereid om te luister, hy oorweeg die ander moontlikhede, hy is nie te rigied in sy benadering nie. Hy is ‘n praktiese man.
Dit is die soort mens wat ons vandag as koning sou wou hê: oopkop, begripvol, oortuigbaar, nie outoritêr nie.
En tog dra dit nie God se goedkeuring weg nie. Hoegenaamd nie! Hy word ge-‘fire”!
“Ek is bedroef daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie.” Samuel was ontsteld en hy het die Here die hele nag om uitkoms gesmeek.
Dit is seker die slegste ding wat ooit van ‘n mens gesê kan word:
“Ek is jammer oor die verantwoordelikheid wat ek daardie persoon gegee het.
Hy het sy rug op my gedraai.
Hy voer nie my opdragte uit nie!”
Die vraag wat ons moet antwoord is, is hoe gehoorsaam ons regtig aan God is.
Ons is Sy NT kerk. Sy Gees het in ons kom woon. Maar hoe gehoorsaam leef ons regtig aan Hom …. TOT IN DIE FYNSTE DETAIL! ??
Dit lyk vir my of God nie tevrede is met ‘n modernistiese slaagsyfer nie.
Want dit kan beteken dat ons 50% ongehoorsaam is en 50% gehoorsaam en dan verwag ons steeds ‘n slaag … en God se glimlag.
Die teks vertel vir ons drie dinge wat skeef geloop het:
1. Dit het gegaan oor Saul se posisie en verantwoordelikheid.God het Saul aangestel in ‘n posisie van verantwoordelikheid. Maar hy het ‘n verantwoordelikheid gehad. Coenie Burger skryf ‘n artikel oor hoop en angs in ons SA konteks en dan vra hy die vraag of ons nie te veel van politici en politieke prosesse verwag nie.Miskien moet ons op al die gewone samelewingsvlakke self meer inisiatief en verantwoordelikheid neem.Op Vadersdag:As jy ‘n pa is, moet jy die volle dure verantwoordelikheid van vaderskap opneem en dit met toewyding leef.So het ons ook in ons werkskringe en in ons families elkeen ‘n dure rol wat ons met verantwoordelikheid en toewyding moet speel.
Nog ‘n posisie waaraan daar verantwoordelikheid gekoppel is, is die rol van vaderskap. (‘n Kollega sê hy verwag van politici net dat hulle hulle nie soos bobbejane moet gedra nie!)
Ons verwag dit van leiers op alle vlakke. Hy moes voorloop. Blykbaar het Saul tog nie ‘n goeie selfbeeld gehad nie.Toe sê Samuel: “Al is jy klein in jou eie oë, is jy tog die hoof van die stamme van Israel. Die Here het jou gesalf tot koning oor Israel. Enige verantwoordelikheid stel eise. Dit het gegaan oor sy gehoorsaamheid. Luister sy antwoord:Samuel verwyt hom sy ongehoorsaamheid.
“Maar ek hét na die bevel van die Here geluister! Ek het gegaan om te doen waarvoor die Here my gestuur het, ek het vir koning Agag van Amalek hierheen gebring, maar die Amalekiete het ek om die lewe gebring.
Dit lyk asof hy eerlik nie sy fout kan insien nie.
Dit gaan oor die fyn instelling op die gehoorsaamheidsgolflengte.
- As die radio net so 0,1 MHz nie op die presiese golflengte ingestem is nie, sal jy heeltyd die lastige suising hoor.
- Waarom het die Here in die ontwerp vir die tabernakel vir hulle so detail-voorskrifte gegee? Is dit nie om vir die volk te leer dat ook gehoorsamheid in die fynste detail belangrik is nie?
- As jy ‘n duur motor of duur horlosie koop en op sy digitale wysers is daar net een strepie wat nie werk nie, sou jy daarmee tevrede wees?Waarom sou God dan tevrede wees met gehoorsaamheid van net so 51%
Die fyn detail maak tog saak.
En presies dit is waarin die Heilige Gees vir ons wil lei.
Dit het gegaan ook oor Saul se eer.
Sy minderwaardigheid het gevra dat hy erkenning moet kry.
En as ander dit nie vir hom gee nie, dan gee hy dit vir homself.
Iemand het vir Samuel vertel: “Saul het by Karmel gekom en nogal vir homself ‘n gedenkteken opgerig. Daarna het hy omgedraai en is hy verby na Gilgal toe.” (Vs 12)
Hy moet God word wat erkenning kry op Karmel.
Net soos die Baälpriesters vanouds in Ela se tyd daar rondom ‘n altaar moes erken dat die Here Jahwe die enigste God is.
Mense doen snaakse goed om erkenning te kry.
Gewoonlik is dit sodat hulle bietjie groter kan lyk.
Saul wou bietjie groter wees.
Geen wonder dat hy te groot geword het vir sy koningskoentjies nie.
Die groot stryd in die Ou Testament se geskiedenis was altyd dié van kompromieë.
Ons wil soos die buurvolke wees. Of amper soos hulle.
Terwyl God vir hulle wou leer: Julle is radikaal uniek. En julle dien ‘n unieke God.
En hierdie God eis van julle radikale gehoorsaamheid.
En as jy, Saul, nie die spel volgens my reëls wil speel nie, dan skeur ek die koningskap van jou af – en Ek gee dit vir een wie se hart op My gerig is.
Nou verstaan ons waarom God ‘n voorkeur het het aan gehoorsaamheid bokant uiterlike rituele:
“Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel?
Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme.”
God kies gehoorsaamheid bo alles!
Gehoorsaamheid – veral ook in die fyner detail!
Ek sluit af:
Samuel het fyn geluister en hy het skape hoor blêr.
Ek wonder wat hoor God en die gemeenskap rondom ons as gelowiges.
Want sien – hulle luister baie fyn.
Ek wonder of hulle nie allerlei “geblêr van kleinvee” in hul ore hoor nie?
Die geluid van die geblêr van kleinvee in Samuel se ore was ‘n duidelike teken ….
- Van iemand wat besig was om kompromieë aan te gaan oor gehoorsaamheid.
- Van iemand wat tevrede was met ‘n slaagsyfer van slegs 50%.
Weet jy, as die Here Jesus ‘n paar honderd jaar na Saul, bereid was om ook kompromieë aan te gaan, dat het ons nooit die geluid gehoor nie van…
- “Gaan weg agter my, Satan.”
- “Vandag sal jy saam met in die Paradys wees.”
- Dan het ons nooit op Golgota gehoor: “Dit is volbring!”
- Want dan sou Jesus net so aan die voet van Golgota al onderhandel het vir bloot ‘n pak slae.
- En dan het ons nooit gehoor nie: “Die Heer het waarlik opgestaan!”Jy is geroep tot gehoorsaamheid – tot in die fynste radikale detail.
- “Mooi so goeie en getroue dienskneg. Ek stel jou aan oor die grootste dinge.’
- Jy was in die kleinste getrou.
- En as jy Hom daarin toelaat, dan sal jy ook hoor:
- Die Heilige Gees is besig om jou te “fine tune” vir ‘n goddelike gehoorsaamheid.
- Die goeie nuus vandag is: Die Heilige Gees is daar om jou daagliks juis daarin te begelei. Om jou te oortuig van sonde en van gedenktekens wat jy vir jouself oprig.
Amen
Ons gee geleentheid vir verootmoediging,
… vir die Heilige Gees om ‘n paar klein verstellings hier binne in ons harte te kom doen …. en ons volg dit op met ‘n gebed van verootmoediging.
Sing: Lied 276:1, 2 “Leer ons om in eie oë klein te wees…”