Pinkster 4Esegiël 37 : Die Heilige Gees bring lewe

Inleiding

Waar kom lewe vandaan? Dit is die vraag waarmee ons ons vandag besig hou?

‘n Vraag wat baie nou daaraan verbonde is, is die vraag : Waaruit bestaan die lewe. Wat defenieer lewe? As ons alle tag-ons in ons lewe wegvat en daar bly net die essensie oor, wat is dit?

Op die eerste vraag is daar basies twee moontlike antwoorde. Lewe kon op een van twee maniere begin het :

  • Die eerste manier is dat dit bloot deur natuurlike prosesse ontstaan het. Met ander woorde soos sommige bioloë beweeer dat lewe êrens diep in die see by water op ‘n sekere temperatuur ontwikkel het. Daar kom die eerste lewe vandaan. Of soos van die fisika mense beweer dat lewe deur die sogenaamde big bang teorie ontstaan het. En dan is daar natuurlik nog honderde ander teorieê.
  • Die tweede moontlike manier waarop lewe kon ontstaan het, is deur die skepping van God. Wetenskaplikses noem dit kreasionisme of die bonatuurlike verklaring. Daarvolgens kan lewe net na God toe herlei word.

En dit bring ons by die tweede vraag naamlik waaruit bestaan die lewe?

  • Volgens die wetenskaplikes is daar nie veel anders in die lewe as om God te speel en die wêreld in stand te hou nie. Terwyl lewe dan net ‘n toevallige ontwikkeling is, is die doel van die lewe ook daarin geleë om lewe in stand te hou.
  • Volgens die Israeliete in ongeveer 586 VC toe Jerusalem vernietig is en hulle na Babilonië toe weggevoer is, het die lewe bestaan in alles wat aan hulle gegee is. Die lewe was ‘n somtotaal van hulle koninkryk, hulle kultuur, hulle kerk, hulle volk, hullle land, hulle ekonomie. En toe al hierdie dinge met die BAbiloniese inval weggevat is, het dit vir hulle letterlik gevoel of hulle lewe weggevat word. Al het hulle geglo dat lewe van die Here kom, het hulle geglo dat alles wat die lewe omvat wat Hy gegee het, is weg en daarom was hulle niks anders as dooie mense nie.
  • En dit bring ons by onsself vandag. As ek vandag vir u vra : Waar kom lewe vandaan sal die meeste waarskynlik së van God af. Maar as ons moet eerlik wees en se waaruit bestaan die lewe vir ons daar is daar waarskynlik ‘n paar interessante ontdekkings. Die maklikste manier om hierdie vraag te antwoord is om vir jouself die vraag te antwoord waarsonder kan jy nie lewe nie. As hulle vandag alles by jou moet wegvat, wat sal jy wil hê dat hulle moet oorlos anders kan jy nie meer lewe nie.

En voor die vraag antwoord van wat lewe is en waar dit vandaan kom, is dit ook net belangrik dat u moet verstaan dat daar ‘n geweldige verskil is tussen bestaan en lewe. BAie dinge bestaan, maar hulle lewe nie. Plante bestaan maar die dag as hulle doodgaan is hulle dood. Diere bestaan maar die dag as hulle doodgaan is hulle dood. Ongelowiges bestaan maar die dag as hulle doodgaan is hulle dood. Die lewe wat ons hier van praat is die ewige lewe wat nou alreeds begin en vir altyd hou.

En daardie lewe geliefdes kom net van een plek af en dit is van God af. Deur sy Heilige Gees bring Hy lewe. Ons sien dit orals in die Bybel :

  • Genesis : Alles was woes en leeg en toe sweef die Gees van God oor die aarde en Hy blaas sy asem in die mens is.
  • Handelinge 2 : Op ‘n radikale manier stort die Here die Heilige Gees uit en wys op ‘n radikale manier dat die Heilige Gees die bringer van lewe is. In die klassieke wetenskap was die vier elemente waaruit die aarde bestaan het aarde, vuur, wind en water. Met die uitstsorting van die Heilige Gees het God al vier gebruik om so vir die mense te wys dat die Heilige Gees rerig die bringer van lewe is. Radikale uitstorting om ‘n radikale les te leer.
  • Maar ons hoef nie eers na Handelinge 2 toe gaan om te leer dat die Heilige Gees lewe bring en hoe Hy die bring nie. Ons kan sover as Esegiël 37 gaan waar die Here in ‘n visioen vir Esegië presies stap vir stap wys hoe dat lewe ontstaan en wat die doel daarvan is. Hy spel dit letterlik vir hom uit. Kom ons gaan kyk nou na daardie visioen en dan sal ons verstaan wat lewe is en dat die Heilige Gees die Enigste Een is wat lewe kan bring.
  1. Leweloosheid

Die eerste stap waardeur die Heilige Gees lewe skep, is dat die mens sy eie leweloosheid moet besef. So lank hy nog dink dat hy lewe en dat hy oraait is, kan die Heilige Gees nie lewe skep nie. En dit is ‘n stap wat Israel ook moes deurgaan. Daarom het die Here vir Esegiël die volgende visioen gewys.

  • 1-2 : Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van die Here uitgebring en neergesit binne-in ‘n laagte. Die laagte was vol bene. Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog.
  • 11 : Die Here het vir my gesê: “Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor. Hulle sê: ‘Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons.

 

Hierdie leweloosheid is die eerste stap in die regte rigting. Eers as jy besef dat jy ‘n dooie mens is kan jy weer lewend word.  En dit sluit niemand uit nie. Daar is volgens Romeine 3:23 niemand op aarde wat goed is en wat lewe nie. Luister hoe kras stel Paulus dit in Romeine 3:10-18 :

10 Daar staan immers geskrywe: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie,
11 daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie.
12 “Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.
13 “Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange,
14 hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.
15 “Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet.
16 Hulle laat ‘n spoor van verwoesting en ellende agter.
17 Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie,
18 ontsag vir God het hulle nie. ”

 

Job 30:16 : “Nou is daar geen hoop vir my nie. Ondergang staar my elke dag in die oe”

Ons is almal dood as gevolg van die sonde en tot die dag dat ons naak voor die Here staan, kan ons nie lewend word nie. Andre het Sondag gese ons moenie bid vir water nie, maar vir dorswees. Net so moet ons nie bid vir lewe nie, maar vir sondebesef. Vir ‘n besef dat ons leweloos is. Dit is die eerste stap waardeur ons die ware lewe ontvang.

  1. Erkenning van die mag en skeppingskrag van God

Die tweede stap waardeur ons lewe ontvang is deur erkenning dat God die mag en die Skeppingskrag het om deur die Heilige Gees weer lewe in ons te bring. Dit is nie iets wat ons uit onsself kan doen nie. Soos Paulus sê : 2 Korinthiers 3: 5: ” Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God”

vers 3 : Toe vra Hy vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?” Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.”

verse 12 – 14 : “Tree op as profeet, sê vir hulle: So sê die Here my God: Ek sal julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, en Ek sal julle terugbring na die land Israel toe. Wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, sal julle besef dat Ek die Here is. Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in julle land laat woon. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen,” sê die Here”

1 Johannes 2:23 : ” Wie nie die Seun erken nie, verwerp ook die Vader; wie die Seun erken, erken ook die Vader”

Daarom dat ons sondag na sondag se : Ek glo in God die Vader die Skepper van hemel en aarde.

  1. Wedergeboorte wat deur God bewerk word

Die derde stap wat hier plaas vind is baie radikaal . Luister hoe word dit hier vir ons gestel:

vers 7 : Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is, en terwyl ek dit doen, hoor ek ‘n gedreun: die bene het na mekaar toe beweeg, elkeen na die been toe wat by hom pas. Terwyl ek kyk, kom daar senings en vleis aan hulle en word daar vel bo-oor getrek. Maar daar was nog nie gees in hulle nie. Toe sê die Here vir my: “Praat nou as profeet met die gees, tree op as profeet, mens, sê vir die gees: So sê die Here my God: Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe”

In ‘n preekstudie wat ons gebruik word wat hier gebeur so mooi gestel. Daar word gesê : Die nuwe lewe is eerstens gevormde geordende lyke wat dan in die tweede stap ook lewende mense moet word. Soos die uitleg wys deug herstelde identiteit slegs as hierdie identiteit omvorm word ddeur die Heilige Gees. Die produk is nie bloot herstelde mense nie, maar herskape wedergebore mense. Die ou dinge het inderdaad verby gegaan en alles het nuut geword. En hierdie alles is alle verhoudinge, alle bedoelings, alle lewe alles wat die mens doen.

Dit is die derde stap. Wedergeboorte. Aleen deur wedergeboorte kan die mens weer lewe. Jesus Christus het in Johannes 3 vir Nikodemus ook daaraan herinner.

  1. Ervaring van hierdie nuwe lewe

En dan die vierde stap van hierdie gee van die nuwe lewe is deur dit net te ervaar. Ons kan dit nie verdien nie. Ons kan dit nie verwerk nie. Ons kan dit nie veroorsaak en maak nie. Ons kan hierdie nuwe lewe net ervaar.  Luister hoe mooi word dit in die gedeelte gestel:

vers 10 : ” Ek het as profeet opgetree soos die Here my beveel het, en toe kom die gees in hulle, en hulle lewe en gaan staan regop. Dit was ‘n baie groot menigte”

En hoeveel keer het ons nie die boodskap die week gehoor nie dat ons die lewe van die Gees gee kan ervaar nie :

  • elke keer as ons water drink
  • elke keer as ons asemhaal
  • elke keer as ons iets goeds doen
  • elke keer as ons gehoorsaam is
  • elke keer as ons eet
  • elke keer as ons Hom aanbid.

Slot

Dit is nie ‘n droom nie. Die lewe wat die Gees gee is ‘n lewensveranderde werklikheid. Die lewe wat Hy gee gee hoop. En hoe het ons nie die boodskap keer op keer van Kersfees af gehoor nie:

  • Ons het gehoor van ons lewensreise vol padstoppe, maar daar is hoop van ‘n eindbestemming
  • Ons het gehoor van die hopelose toestand wat Jeremia skep en ons wat gehoorsaam moet wees en dat ons dinge kan verander, maar ons het gehoor van ‘n hoopvolle einde.
  • Ons het gehoor van ‘n hopelose toestand wat Openbaring skep, maar ons het gehoor van hoop op die einde.
  • Ons het die week gehoor van moegheid en woestyne en bulte en uitgeputheid, maar ons het gehoor van hoop van die Gees wat lewe gee. Dit is die boodskap van vandag. Die Heilige Gees bring lewe.

Amen.